Springbok Radio logo

Springbok Internet Radio

 

Radio op sy beste 

Luister op foon/tablet

Springbok App

Springbok Radio logo
  • Tuis

  • Radio skakels

  • Omroepers

  • Foto's

  • Omtrent ons

  • Blog

  •  

    © 2014 Springbok Internet Radio by Wilna

    KOESISTERS

    (Getoets en foto: Springbok Kombuis)

     

    9 koppies meel

    85 gm Margarien

    9 teelepels bakpoeier

    4 Eiers

    3 Koppies water

    1½ Teelepel sout

     

    Uit bogenoemde bestanddele kry ons so 5kg koeksisters.

     

    Sif meel en bakpoeier saam. Sit een koppie water en margarien in mikrogolf en verhit tot margarien gesmelt is. Nie nodig om te kook nie, net smelt. Gooi die res van die water by.

     

    Klits eiers en sout by hierdie mengsel en gooi dan alles oor die meel en knie deeglik. Indien onhanteerbaar slap, knie nog meel by of as te styf, knie min water by.

     

    NB. Om 85 gm margarien te meet, neem 125gm blok, merk af in drie dele en gebruik dan twee dele hiervan. Dis naby genoeg.

     

    Laat die deeg vir 'n uur rys. Sny dan die deeg in kwarte. Druk 'n kwart plat op n met meel bestrooide oppervlakte sommer met die hand tot ongeveer ½cm dik en sny reguit bane ongeveer 4 vinger breed, met 'n pizza snyer of mes.

    Sny elke baan in repe ongeveer 12mm breed as jy net gedraaide koeksisters wil maak, of 18mm as jy dit wil vleg.

    Sny die 12mm in die middel op die lengte, maar begin so 'n 5 of 6mm van die punt af, sonder om dit deur te sny. Gee elke been 'n draai en draai hulle dan saam soos 'n tou gedraai word.

    Doen dieselfde met die 18mm stroke maar vleg die bene. In albei gevalle moet die punte goed saamgedruk word, anders raak hulle los tydens die bakproses.

    Pak die gevlegde deeg op 'n oliegesmeerde oppervlak en gooi toe met 'n klam lap om te keer dat dit nie 'n droë lagie vorm nie.

    Die olie om in te bak moet lekker warm wees, bv. as 'n toetsdeeg ingesit word, moet hy so binne 6 tot 8 sekondes begin dryf. Sit dan die gevlegde deeg

    vinnig in sodat al die koeksisters net mooi dryf en nie dig teenmekaar of op- mekaar lê nie. Draai egalig om, om 'n egalige kleur te kry. Let Wel: die olie moet nie té warm wees nie, anders word die koeksisters te gou bruin en is hulle binne nog nie gaar nie.

     

    As hulle die regte kleur het (jou keuse - lig, donkerder of donker bruin) haal uit met draadlepel, gooi in stroophouer en druk onder vir so 5 sekondes.

    As die baksel alles in die stroop is, lig uit en laat die oortollige stroop afdrup.

    NB. wees net versigtig om nie die uitskep- of draadlepel in die stroop te druk nie, dit maak nogal 'n redelike gemors in die olie.

     

    Hoe maak mens die stroop?

    10 koppies suiker,

    5 koppies water,

    2 eetlepels van enige stroop,

    ½koppie suurlemoensap of 1 teelepel kremetart.

     

    Kook water, suiker en stroop op stoof en roer af en toe tot suiker opgelos is.

    As dit kook, gooi die suurlemoensap by, roer net en tel af om te verkoel.

    Die stroop word by kamertemperatuur gebruik.

     

    Hierdie stroopmengsel is genoeg vir 5kg koeksisters, maar dan sal jy op die einde sukkel om die koeksisters onder te druk. As jy weer gaan bak, kan jy dubbel aanmaak, of die koeksisters wat nie ondergedruk kan word nie, met versiersuiker strooi of daarin rol. Dit is ook lekker so, veral vir kinders.